
=====================================================================
'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5)
=====================================================================

Inhoudsoorsig


'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel

Annatjie Louw vertel hoe sy stories vergaar vir haar storiepamflette om s 'n jong geslag in Namibi se verskuiwing na Engels te help 
stuit.

MENSE stry as ek s Afrikaans is 'n bedreigde taal in Namibi. Oral word Afrikaans dan nog gehoor, s hulle. Dis waar, maar luister mooi: 
dis veral die ouer garde wat so Afrikaans praat. Die Russiese linguis Alexandr Kibrik wys daarop dat 'n gesonde taal deur alle 
ouderdomsgroepe in die spraakgemeenskap gepraat word. Ek glo daar is 'n taalverskuiwing na Engels by Afrikaanssprekende Namibiese jongmense 
aan die gang. By van die kleiner kinders in Afrikaanse huise weet ek het die verskuiwing reeds plaasgevnd.

Die Namibiese bevolking is jonk: 71% is onder 30. Klaarblyklik is dit hierdie groep wat die gang van sake in die volgende eeu sal bepaal -- 
taalsake ingesluit. Michael Krauss voorspel "the death or the doom" van 90% van die wreld se tale in die volgende eeu. E.M. Uhlenbeck 
waarsku dat die uitsterf van tale geen nuwe verskynsel is nie, maar dat die uitsterfproses dramaties versnel het.

Om te probeer vasstel wat die toekoms van Afrikaans in Namibi is, het ek die einde van 1996 'n landswye waarnemings- en vraelysstudie 
gedoen onder veeltalige Namibiese graadelfs met Afrikaans as vak. Van hulle was 60% Afrikaans, 14% Khoekhoegowab (Nama/Damara) en die res 
Otjiherero, Oshiwambo, Duits en Engels. Oshiwambo is die grootste taalgroep in die land (50,2%), Khoekhoegowab die tweede (12,5%) en 
Afrikaans die derde (9,5%).

Afrikaans 'n terminale taal

Op grond van hierdie M.A. ondersoek (titel: Moedertale en die Namibiese skoolverlater. 'n Taalverhoudingstudie -- met die fokus op 
Afrikaanssprekendes) maak ek die uitspraak dat Afrikaans weens die jongmense se taalverskuiwing 'n terminale taal in Namibi is. Die 
verskuiwing het meer as een rede. M.i. is die hoofrede ekonomies van aard. Die ekonoom E.J. Mishan s dat die wet van aanvraag een van die 
min betroubare veralgemenings in die wetenskap is. Daarvolgens is daar 'n negatiewe verhouding tussen die prys van 'n ding en die aanvraag 
daarna. Toegepas op tale, beteken dit dat die taal met die gunstigste prys die grootste aanvraag sal geniet. Engels is die taal van die 
skool, die naskoolse inrigtings en die werkterrein in Namibi. Engels se prys is die gunstigste en daarom is die aanvraag daarna die 
grootste.

Die feit dat Engels die onderrigtaal is, help die proses van moedertaalvervreemding aan, maar wat my betref is die hele Namibiese omgewing 
moedertaal-onvriendelik -- nie net die skoolomgewing nie. Een van die dertien skole in die studie was 'n plattelandse privaat skool en die 
ander 'n skool waar Afrikaans as skooltaal nog aan die uitfaseer was. Hoewel hierdie respondente steeds onderrig is in Afrikaans, was hul 
antwoordpatroon dieselfde as di van die res wat toe al vyf jaar Engelse onderrig ontvang het. Ook van hul antwoorde kon ek aflei Afrikaans 
staan nou nog sterk. Waar toekomstige taalgebruik egter ter sprake is, fokus die respondente op Engels ten koste van hul moedertale.

Kibrik s voorts omtrent taalgesondheid dat 'n mens moet sorg vir moedertaal-oordrag na die volgende geslag. Die helfte van die Afrikaanse 
jongmense het ges dat hulle Engels as eerste taal aan hul toekomstige kinders sal oordra. Net 17% van die Khoekhoegowab-sprekers wil hul 
moedertaal as eerste taal oordra aan hul kinders.

Verlede jaar het prof. Jan Sadie in 'n artikel in hierdie blad ges indien Afrikaanse kinders huistaalgewys in die voetspore van hul 
voorouers volg, daar in die jaar 2011 altesame 6,7 miljoen Afrikaanssprekendes en 4 miljoen Engelssprekendes in Suid-Afrika sal wees. Drie 
Kaapse skole was 'n kontrolegroep in my studie. 'n Derde van hierdie Afrikaanstalige skoolverlaters het ges dat hulle nie Afrikaans as 
eerste taal aan hul kinders wil oordra nie. (Let wel: geen taal is by name in my vraelys genoem nie. Die respondente het die tale wat hulle 
voorgestel het, self benoem.)

Belgiese en Nederlandse studente was in 'n klein mate ook 'n kontrolegroep in die studie. Al die Nederlanders en 88% persent van die Belge 
het ges hulle wil hul moedertaal aan hul kinders as eerste taal oordra. Hierdie studente beskou nie die moedertaal as werkstaal nie 
(liewer Duits en Engels), soos wat die Suider-Afrikaners byna eenparig Engels as werkstaal aangegee het.

Weliswaar was die Nederlandstalige kontrolegroep taalstudente, maar let op die volgende: Die klein groep Duitse jongmense wat in die 
Namibiese studiegroep opgeneem is, het eenparig ges dat hulle hul moedertaal as eerste taal aan hul kinders sal oordra hoewel hulle ook 
Engels as die werkstaal beskou.

Jongmense van die ander Namibiese taalgroepe identifiseer duidelik minder met hul moedertale.

Uit antwoorde op ope-vrae in die studie het ek afgelei dat 'n groot deel van die Namibiese jongmense nog emosioneel gebonde voel aan hul 
eie taal en mense. Dis waarom ek glo dat die taalverskuiwingsproses nog vasgehou en dalk omgekeer kan word. 'n Klassieke voorbeeld van 
omkeerbaarheid in die geskiedenis van Afrikaans is die volgende:

'n Stellenbosse student het destyds geskryf: "English is now virtually a universal language, its literature is studied and admired by all 
civilised countries, it forms the commercial medium of the whole world ... In our opinion no greater injustice could be done to our country 
than by forcing upon us a worthless and insignificant language ... For intellectual training Africander Dutch offers no scope, for it has 
no literature, and a very poor vocabulary. For international intercourse and as a trade-medium, English is superior to it ..."

Dieselfde persoon, kort voor sy dood in sy vyftigerjare: "In ons wonderlike Afrikaans, gebore uit die nederige behoeftes en die 
ongekunstelde siel van die onbevoorregte plattelander ... het ek gevind my prel van grote waarde waarvoor dit 'n goedkoop prys sou gewees 
het, as ek tot die betaling geroepe was, om al my ander besittings af te staan." Dit was C.J. Langenhoven -- eers in 1893 en toe in 1932. 
(E.C. Pienaar, 1943:340 e.v.)

Ek het self in die loop van die studie 'n houdingsverandering teenoor Afrikaans ondergaan: van passief lojaal tot aktief lojaal. Afrikaans 
is in 'n onlangse CNN-nuusuitsending die wreld se jongste taal genoem. Ek beskou jonk as kragtig en voel dat jong kinders ingespan moet 
word om Afrikaans vas te hou. Maar hoe?

Ontstaan van storiepamflette

Onlangs het die elfjarige Loren in Kaapstad vir my ges haar gunstelingvak is wetenskap, want dit maak haar "nuuskierig". By 'n skool op 
Gansbaai het 'n laerskool-onderwyseres wat al dekades lank skoolhou, ges dis ontstellend om te sien hoe onkreatief en apaties kleintjies 
oor die jare geword het. 'n Walvisbaaise onderwyseres het genoem sy hou van skoolbeginnertjies, want hulle het nog hul eie integriteit. 
Kort voor lank neem hulle die skool se integriteit aan.

Die bindingskrag en vreugde van stories is onlangs in Windhoek tydens 'n skryfskool van dr. Dorian Haarhoff bevestig. Binne ure is veertien 
kursusgangers met uiteenlopende persoonlikhede en verwysingswrelde deur stories saamgesnoer.

Met die voorafgaande in gedagte het ek 'n storiepamflet-veldtog vir kinders aangepak na aanleiding van 'n gesprek met dr. Jeanne Ttemeyer 
in Windhoek. Sy het vertel hoe leespamflette toentertyd in Engeland vir 'n pennie van deur tot deur verkoop is. Dis glo waar die naam 
"penny horrible" vandaan kom. My pamflette van A4-grootte word Oulap-stories genoem. Ideaal behoort hulle 'n oulap, in vandag se terme 'n 
Namibiese dollar (Suid-Afrikaanse rand), te kan kos. Maar op die oomblik is dit liefdeswerk wat nog net uitgedeel word.

Mense skryf, vertel en/of leen vir my stories, ek pleeg self 'n paar, Kobus van Zyl het 'n paar al gellustreer. Van die stories het ek 
suksesvol op sewejariges in Windhoek getoets; ook op Gansbaai, waar ek agterna verneem het net drie uit vyf-en-twintig kinders hoor nog 
saans stories by Ma en Pa. Hierdie twee groepe het elk 'n storiepamflet gekry waarop hulle in die klas hul naam kon teken, 'n eie prentjie 
kon maak en 'n sinnetjie of twee kon byskryf. Dis agterna gelamineer en aan hulle teruggegee. Een seuntjie van Gansbaai het vir my ges hy 
het nog nooit 'n boek besit nie.

Intussen het daar stories vir ouer kinders en grootmense bygekom. Daar is bv. 'n "Witdoodhaai-trilogie": die negejarige Appie van 
Saldanhabaai se komieklike storie in sy eie handskrif, Alsoon van visstoriesfaam se bydrae en dan die aangrypende een van Christie se ware 
ontkoming by Rooi-Els. Ek het gou agtergekom mense dra nie uit hul eie stories na jou aan nie. Jy moet stories gaan soek -- dan kry jy 
baie. Die Suider-Afrikaanse bodem wemel daarvan.

Graag sou ek die storieveldtog wou kombineer met 'n "Grab a Granny -- and bring Grandpa too"-veldtog. Die idee is dat ouer mense op 'n 
verantwoordelike en beplande manier betrek word om vir kinders te gaan stories vertel: voorskools, in skole, in biblioteke. Dit sluit aan 
by die Australiese taalnessies waar bejaardes ingespan word om die Aborigines se taal te help vashou. Alexandr Kibrik s dis bevorderlik 
vir taalbehoud as kinders in die eie familiegroep grootword met betrokke grootouers daarby. Die aanvanklike afwesigheid van 'n Nederlandse 
ouer garde is m.i. een van die redes waarom Nederlands destyds aan die Kaap gekwyn het: Jan van Riebeeck en kie. het nie hul oumense 
saamgebring toe hulle die halfwegstasie kom vestig het nie.   Annatjie Louw van Windhoek s sy is 'n vergaarder van stories sodat Afrikaans 
en sy mense daarby baat kan vind.

Terug na bo

Hierdie blad: <http://www.afrikaans.com/av5521.html> Voeg kommentaar toe aan hierdie bladsy. Skryf gerus aan die redaksie.  Kopiereg (c) 
Stigting vir Afrikaans 1999     Blaai terug | Blaai om
.

Enige woord Al die woorde Presiese frase   /// Afrikaans Vandag -- Desember 1998 /// Hanteer praktiese taalprobleme menswaardig (AV 5:5) 
/// Oor vryheid en onvryheid (AV 5:5) /// Nederlandse boeke in Suid-Afrika (AV 5:5) /// Wie sal die verlossende woord spreek? (AV 5:5) /// 
Toonvenster van talent (AV 5:5) /// Hegte vriendskapsbande met Vlaandere gebou (AV 5:5) /// 'n Nuwe Afrikaanse webwerf (AV 5:5) /// 
Gehalteprodukte verdien sente (AV 5:5) /// Europese studie-ervaring is binne bereik (AV 5:5) /// Kroniek van twee gesprekke (AV 5:5) /// 
Die wel en wee van Afrikaans se statusprys (AV 5:5) /// Ons sing in Afrikaans! (AV 5:5) /// 'Aitjiebul' speel met taal (AV 5:5) /// 
Vrouekrag in die Suid-Kaap (AV 5:5) /// 'n Gees van fees in die lug (AV 5:5) /// 'n Skrywersoog op Kersfees (AV 5:5) /// Stel die land en 
al sy mense sentraal (AV 5:5) /// Slaan 'n slag vir Afrikaans (AV 5:5) /// 'Interessante tye' vra innovasie (AV 5:5) /// Veeltaligheid is 
'n bron van kennis (AV 5:5) /// 'n 'Oulap' se stories laat die taal vonkel (AV 5:5) /// Sport en sports vir joernaliste in Londen (AV 5:5) 
/// Ek en die lytest geneuk (AV 5:5) ///

